top of page
  • Writer's pictureAurum Trust

Aflegging: Maak Tweede Begin só Makliker

Artikel geskryf deur Liesl Peyper, Rapport


Om jou werk te verloor, is een van volwassenes se grootste nagmerries. Dit hoef egter nie jou lewe of geldsake te verwoes nie. Rapport het gaan vasstel wat jy moet doen as jy die slagoffer van personeelvermindering word.

Dis Vrydagmiddag en die mensehulpbron-afdeling het 'n vergadering belê. Die berugte was toe waar: Die maatskappy vir wie jy al langer as 'n dekade werk, gaan sy deure sluit. Wat nou?


Die belangrikste is om nie paniekerig te raak nie, sê Rita Cool, 'n gesertifiseerde finansiële beplanner by Alexander Forbes. "Baie mense verloor hul werk op die een of ander tyd. Dis nie persoonlik nie."


Dit is raadsaam om 'n lys te maak van al die dinge waaroor jy jou bekommer, en uit te stippel watter dringende besluite wanneer geneem moet word.


As sekere besluite kan wag tot later, skuif dit opsy sodat dit nie onnodig spanning veroorsaak nie, sê sy.


Nadat jy diep asem gehaal het en jouself tyd gegun het om die ergste skok te verwerk, moet jy jou begroting oënskou neem.


Jy moet presies weet wat al jou uitgawes is en kyk hoe dit vergelyk met jou skeidingspakket. Stel 'n nuwe begroting op wat gegrond is op die waarde van jou skeidingspakket sodat jy weet hoe lank die geld sal hou totdat jy 'n nuwe werk het, sê Cool.


Jan Taks se deel

Kragtens wet moet 'n skeidingspakket minstens een week se salaris vir elke jaar diens wees. As jy dus nie baie jare diens het nie, sal jou skeidingspakket nie noemenswaardig wees nie.


Boonop is 'n skeidingspakket onderhewig aan belasting. Die eerste R50 000 van die skeidingspakket is vrygestel van belasting, waarna die volgende R200 000 wat jy onttrek teen 'n koers van 18% belas word.


Alle bedrae bo R1 050 000 word belas teen 36%.


Verlof wat uitbetaal word, asook pro rata-bonusse is nie deel van jou skeidingspakketvoordele nie en is onderhewig aan die normale belastingskoers wat vir bepaalde bedrae geld.


Delg jou skuld

As jou skeidingspakket dit toelaat, is dit 'n goeie idee om jou skuld te delg. "Begin by die duurste kredietkaartskuld, want jy sal geld spaar op rente," sê Cool. "Anders kan jy kleiner rekeninge afbetaal vir gemoedsrus."


Cool stel voor dat mense nie onmiddelik hul huisverbande afbetaal nie. Toegegee, dit sal help om maandelikse terugbetalings te verminder, maar uiteindelik kan jy nie 'n huis "eet" nie.


As jy nie 'n inkomstebeskermingspolis of versekering teen uitdiensstelling het nie, of as jou pakket te gering is om jou skuld te delg, moet jy met jou krediteure in verbinding tree, sê Gustav Potgieter, 'n gesertifiseerde finansiële beplanner by Aurum Trust.


"Die meeste krediteure is tans gewillig om nuwe terugbetalingsvoorwaardes op te stel. Maak seker jy beskerm jou kredietgeskiedenis ten alle koste, want dit vat lank om van 'n negatiewe kredietgradering ontslae te raak."


Cool waarsku dat dit in die meeste gevalle onwys is om skuld te konsolideer in een oorhoofse lening.


"Dit lyk miskien of dit goedkoper gaan uitwerk, maar jy gaan dit waarskynlik oor 'n langer termyn moet afbetaal, wat meer rente op die terugbetaling beteken."


Moenie die neseier oopbreek nie

Die eerste prys is om vir so lank moontlik van jou skeidingspakket gebruik te maak vir daaglikse uitgawes en om sover moontlik weg te bly van die geld wat jy gespaar het vir aftrede.


"Dit is raadsaam om liewer vir 'n korttermyn-lening teen 'n voorkeurrentekoers aansoek te doen," sê Potgieter, "hoewel dit baie moeilik kan wees om so 'n lening te bekom as jy werkloos is."


Cool meen dit is nie die einde van die wêreld as jy op kort termyn van kredietkaarte gebruik maak om aan die lewe te bly nie.


"Jy kan dit altyd terugbetaal wanneer jy weer 'n werk kry."


Hoewel jy nie geld van jou uittree-annuïteit kan onttrek nie, mag jy wel eenmalig geld van jou bewaringsfonds onttrek. Dis onderhewig aan belasting.


Moet ek spring of bly?

Heelwat maatskappye bied vrywillige skeidingspakkette aan voordat hulle 'n amptelike afleggingsproses begin. Dit hang af van jou unieke omstandighede af of jy dit moet aanvaar of nie.


"Kyk na die waarde van die pakket, maar ook na jou moontlikhede om gou 'n nuwe werk te kry," sê Gustav Potgieter, 'n gesertifiseerde finansiële beplanner by Aurum Trust.


"Die aanbod van 'n vrywillige pakket is dalk net die hupstoot wat jy nodig gehad het om 'n nuwe blaadjie om te slaan in jou loopbaan."

Dit is ook belangrik dat jy weldeurgedagte besluite neem in oorleg met 'n kundige, sê Rita Cool, 'n gesertifiseerde finansiële beplanner by Alexander Forbes.


"Die aanbod van 'n vrywillige pakket is dalk net die hupstoot wat jy nodig gehad het om 'n nuwe blaadjie om te slaan in jou loopbaan, veral as jy al lank by die maatskappy is en jou inkomste het gestagneer.


"Of as jy baie naby aan aftrede is, kan die vrywillige skeidingspakket dalk vergoed vir die maande wat jy nog sou gewerk het. In daardie geval kan jy vroeë aftrede oorweeg."


Dit is egter belangrik om nie die kar voor die perde in te span nie. As jy nie gereed is om jou pos meer te lê nie en afleggings kom ter sprake, moenie oorhaastig besluit om 'n nuwe werk te aanvaar en dan die skeidingspakket mis te loop nie, sê Cool.


"In baie gevalle was jou eie werk dalk nie eens in gedrang nie, en bedank jy sonder 'n nuwe werk of 'n skeidingspakket."

 

Bron: Hierdie artikel was deur Netwerk 24 in die Rapport gepubliseer.



bottom of page